Boodskap vir Vandag

Search

Daar is altyd uitkomste

Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U (Psalm 56:4).

Kort ná Kersfees stap ek en my vrou ‘n restaurant op ‘n bekende kusdorp met ons skootrekenaars binne. Ons plan: Om ‘n wifi-verbinding te kry sodat ons ons e-pos kon nagaan.

Die uitstappie word ‘n onverwagse en verrassende oomblik.

Ons het pas gesit toe die bestuurder, ‘n jongman van kort anderkant twintig, by ons tafel opdaag met die mededeling dat ons die laaste aand van sy restaurant se bestaan meemaak. As afskeidsgebaar bied hy ons graag vir oulaas ‘n glasie gratis wyn aan.

Ons is ietwat uit die veld geslaan. Ook hartseer toe ons sy verhaal hoor. Van hoe die plek te stil geword het vir ‘n sinvolle bedryf. En hoe hy nie langer kans sien vir nóg verliese nie. Dié het reeds, volgens hom, twee miljoen Rand beloop.

Die grootste verrassing egter is dat hy steeds glimlag. Sy voorraad, so vertel hy, is reeds verkoop. Ook het hy gesorg dat byna al sy personeel elders werk bekom het. Self is hy op pad oorsee om dáár ‘n ander werk te beproef. “Ja, ek is nie moedeloos nie. Ek is nog jonk en het die lewe voor my. Ek sal oorleef.”

Sy woorde het my deels beskaam. Ook gehelp om die nuwe jaar positiewer te benader. Want hoe broos ons lewe ook al is, daar is altyd uitkomste. En die moontlikheid van nuwe keuses.

En dít veral met die vertroue dat God sal sorg, selfs al is ek bang (Ps 56:4).

Dankie, Here, vir u Woord wat my vandag opnuut daarvan verseker dat U sal sorg, selfs al is ek benoud en bang. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.