Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie … (2 Timoteus 4:5).
Kort ná die terreuraanvalle in Parys verlede jaar, het die Franse president iets baie kragtig en hoopvol kwyt geraak.
Woorde wat net sowel as ‘n voorneme vir die nuwe jaar kan geld.
Hy het naamlik gesê: “Die Franse het daarin geslaag om ná die aanvalle ‘n balans tussen drie dinge te kry. Hierdie dinge was en is steeds: verdriet, woede en veerkrag.”
Verdriet, omdat ‘n mens die skok en aakligheid van die aanvalle en soortgelyke tragedies nie kan ontken nie. Jy kan alleen daaroor huil.
Woede, omdat dit ‘n egte emosie is wat jy in sulke omstandighede nouliks kan ontduik. Selfs al het dit die potensiaal tot blinde vergelding en sinlose geweld.
En veerkrag, omdat dit ons oop en ontvanklik kan hou vir nuwe, verbeeldingryke en positiewe moontlikhede. Ons ook sal vrywaar van wanhoop en sinisme.
In ‘n sin beskryf hierdie woorde ook óns werk as verkondigers van die evangelie.
O Here, maak ons vandag getrou aan ons roeping sodat ons ook die noodsaaklike balans tussen verdriet, woede en veerkrag kan kry. Amen
Carel Anthonissen