Moenie jou te regverdig wil hou nie, moenie aanspraak maak op meer wysheid as wat jy het nie (Prediker 7:16).
Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense (1 Tessalonisense 5:15).
Dit is algemeen bekend dat die morele integriteit van enige samelewing afhanklik is van die goeie gesindheid en gedrag van elkeen van sy inwoners.
In dié verband is dit belangrik dat elkeen van ons, veral diegene onder ons wat ernstig oor ons geloof is, aan die begin van die jaar vir onsself duidelike voornemens sal formuleer.
En hierdie voornemens ook met oorgawe gestand doen.
Wat myself betref, is daar ‘n paar waardes of gedragskodes waarby ek vanjaar graag wil hou.
Die eerste is om eenvoudig met goeie maniere te leef. Om dus respekvol, hoflik en sensitief teenoor alles en almal rondom my op te tree.
Wat beteken dat ek nie minagtend op ander sal neerkyk en leef asof hulle nie bestaan nie. Of nie my omgewing so sal benader asof dit ‘n rommelwerf is nie. Of die paaie, asof dit aan my alleen behoort nie. Asof ek die middelpunt van alles is nie.
Wie nie met hierdie instelling leef nie, weet nog min van goeie maniere.
O Here, leer my vanjaar om met goeie maniere te leef, sodat die samelewing waarvan ek ‘n deel is, ‘n beter plek kan word. Amen
Carel Anthonissen