Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus (Psalm 51:5)
Een van die groot probleme van ons samelewing is dat daar so min mense is wat bereid is om hulle foute of droogmakery te erken. Selfs daaroor te huil. Ook in te staan vir die gevolge daarvan.
Altyd weer word foute en skuld verdoesel, korrupsie verdedig en goedgepraat, mislukkings verontskuldig.
Of wanneer die verleentheid té groot en die skade té opsigtelik raak, word dit toegeskryf aan sogenaamde faktore buite jou beheer. Of ander wat beter moes geweet het.
O, wanneer sal ons leer dat dit ‘n teken van groot volwassenheid is wanneer jy bereid is om jou foute openlik te erken! Selfs daarvoor verskoning te vra — en dan reg te maak wat verkeerd was.
Dit bly een van die bevrydende waarhede van die Bybel, dat wie eerlik in nederigheid hulle foute erken, hulle skuld, versuim of aandadigheid bely, húlle word vergewe. Trouens, in hierdie onbeskroomde vorm van eerlikheid teenoor jouself, ander en God, skuil daar die belofte van vergifnis en herstel, selfs van ‘n nuwe toekoms.
Dit is só eenvoudig, en tog só moeilik.
Kom ons maak hierdie moed tot skulderkenning deel van ons persoonlike voornemens vir 2016. Selfs al verstaan sommige mense daar geen snars van nie.
O Here, soos Dawid wil ons vandag weer bid: “Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit. Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.” Amen
Carel Anthonissen