Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen (Matteus 25:40).
Om soos Jesus jou lewe na die armes te draai en goeie nuus vir hulle te bring én vir hulle te wees, is allermins maklik.
Dit neem jou op onbekende en, laat ons maar eerlik wees, ongemaklike paaie.
Paaie waar jou lewe, net soos met Jesus sʼn die geval was, hoogs waarskynlik ook sal kruis met talle ander wat die lot van die armes deel, onder andere tronkvoëls, onderdruktes en gestremdes.
Wie hulle met diesulkes bemoei, moet weet dat hulle sal begin deel in die laste en pyn van hierdie mense en hulle onbekende skemerwêreld. Soos hulle, sal jy party dae moedeloos, verward en ja, ook uitgebuit en gefrustreerd voel. Dit is die prys wat jy betaal vir hierdie reis, die kruis wat daarmee saamkom.
Maar wie hierdie reis in die geloof aanpak, mag ook aangenaam verras, selfs oorweldig word. Hulle mag in die aangesig en reaksie van die armes ‘n stuk eenvoud, menslikheid en dankbaarheid ontdek wat hulle nie vroeër geken het nie. En wat hulle lewe oneindig kan verryk.
Hulle kan selfs ontdek dat Christus hulle in dié mense tegemoet tree en kom seën.
Is dit dan nie deel van sy vreemde belofte in Matteus 25:31-46 nie?
Here, laat ons eerlik wees: Ons het nie lus vir die wêreld van arm mense nie. U sal ons moet leer hoe om daarmee om te gaan. Ook hoe daar seën daarin opgesluit kan wees. Amen
Carel Anthonissen