“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.” (Johannes 1:48).
Wie die groot uitdaging en verantwoordelikheid van ons eeu op hulle neem om vir die armes te begin sorg, moet altyd éérs ‘n belangrike eerste tree gee.
Dit is om agter die vodde en die vuil, agter die smekende, pleitende oë, ‘n medemens in uiterste nood raak te sien.
Ook om jou in hierdie nood te begin inleef. Jou as ‘t ware in die skoene van die arme te verplaas. Wat beteken dat jy sal aanvoel en raaksien hoe verskriklik armoede regtig is. Hoe dit mense van hulle menslikheid, selfvertroue en trots kan beroof, sodat hulle hard en verbitterd raak.
Want soos iemand skryf: “Wie ‘n harde lewe lei, word self ook hard.”
Armoede bepaal uiteindelik wie mense is, wat hulle word en hoe hulle optree. Dit laat wonde, nie alleen in en op die lyf nie, maar veral ook in die siel — daardie setel van ons herinneringe, gevoelens, stemminge en lewensinstelling.
Wie nie dit raaksien en verstaan nie, leef nog grootliks aan die armes verby.
En sal steeds voortgaan om sonder enige gewetenswroeging luukse paleise en motors te bekom.
Here, help ons om dit vandag weer te waag met daardie eerste tree – dit is om, soos U, ons medemens regtig raak te sien. Amen
Carel Anthonissen