Julle is tot vryheid geroep (Galasiërs 5:13).
Die drif, ywer en sekerheid van die sogenaamde charismatiese Christendom het my nog altyd ietwat ongemaklik gelaat.
En tog, dit moet ‘n mens toegee, kan ons baie by hulle leer wanneer dit gaan oor egte aanbidding, en veral wat dit beteken om jou voortdurend en resloos aan God se leiding en wil oor te gee.
Ek besef dit onlangs weer toe ek vir die soveelste keer luister na die Ierse sanger, Robin Mark, se treffende lied: “Jesus, all for Jesus…”.
Dit kom uit sy album: “Revival in Belfast”.
Ná die herhaaldelike oproep tot oorgawe aan Jesus alleen – “Jesus all for Jesus! All I am and have and ever want to be” – volg dan dié woorde wat ons nog dieper en méér konkreet in ‘n lewe van volle oorgawe en gehoorsaamheid wil inlei.
“All of my ambitions, hopes and plans I surrender these into your hands. For its only in your will that I am free.”
Hiermee kan ons beswaarlik stry. Dit is inderdaad alleen in gehoorsaamheid, in oorgawe aan God se goeie wil dat ons as mense vry word.
O Here, leer ons vandag weer daardie vryheid wat alleen in die navolging van u goeie wil bestaan. Amen
Carel Anthonissen