Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor (Lukas 4:28).
Ons teks vir die week, Lukas 4:22-30, is ‘n vreemde en diep ontstellende gedeelte.
Dit maak ons daarvan bewus dat gelowige mense die Jesus-figuur en waarom Hy geleef het, totaal kan misverstaan. Ook dat óns nie te seker daarvan moet wees dat ons die ware Jesus ken en volg nie.
Duidelik sien ons in dié verhaal hoe hierdie misverstand en die gepaardgaande ontnugtering met die Jesus-figuur kan plaasvind.
Want aanvanklik, so hoor ons, was die omstanders – almal toegewyde gelowiges – trots op hierdie seun van hulle eie dorp en omgewing. Ook opgewonde oor sy besoek, want hulle het gehoor van sy prestasies in ander dele van die land. En nou, so het hulle gehoop, kon hulle dieselfde meemaak.
Maar dan, wanneer Jesus begin praat, vind daar algaande ‘n omslag in hulle emosies en houding plaas. Trots maak plek vir groeiende irritasie en verwondering word siedende woede. Trouens, ons lees dat die goeie mense van Nasaret se woede later só intens was dat hulle Jesus letterlik soos ‘n misdadiger uit die dorp gejaag het, Hom selfs by ‘n krans wou gaan afgooi.
Hoor julle ook die waarskuwing: ‘n Mens moet versigtig wees om té gou te sê jy kén Jesus. Jy verstaan die bedoeling van sy lewe. En dat jy Hom onder alle omstandighede sal volg.
Ander, waaronder ‘n naby-dissipel soos Petrus, het hulle op dié punt vasgeloop. Dieselfde kan maklik met ons gebeur …
O Here, help ons om nie oormoedig of oordadig te word in ons belydenis van U as ons Heer nie. Leer ons beskeidenheid en om U te volg op die paaie wat U self vir ons kies. Amen
Carel Anthonissen