Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd … ‘n tyd om te huil, ‘n tyd om te lag (Prediker 3:1 en 4).
Ek kyk graag sport, veral tennis en krieket.
Wat dáár gebeur, veral die boeiende dinamiek van wen en verloor, bly ‘n belangrike spieëlbeeld van die lewe.
Onlangs weer sien ek hoe ‘n gekeurde tennisspeler onverwags teen ‘n minder gerekende teenstander verloor. Dit is asof die top speler dié dag net nie aan die gang kon kom nie. Terwyl sy teenstander een wenhou ná die ander slaan. En uiteindelik die wedstryd wen!
Tereg merk een kommentator op: “Ja, so gaan dit. Partykeer is dit maar net nie jou dag nie. Terwyl vir ander alles eenvoudig uitwerk en reg verloop. Dit is hulle dag!”
Ek noem die voorbeeld, want dit is hoe dit met ons lewe ook maar gaan.
Party dae gaan alles inderdaad klopdisselboom, soos die ou mense altyd gesê het. Jou afsprake en reëlings werk uit, die verslag kom klaar, die uitslae verras en maak jou verlig, en mense antwoord hulle telefone. Die wêreld voel vriendelik en aangenaam. Jy kan lag.
Maar dan is daar die aaklige dae wanneer alles en almal blykbaar teen is. Wanneer alles verkeerd loop en nie uitwerk nie. En jy wil huil. Dit is net nie jou dag nie!
Die uitdaging is natuurlik om sulke dae te herken vir wat hulle is. En om doelbewus kalm te bly, jouself nie onnodig op te werk of te ontstel nie. Om geduldig te bly en te vertrou dat dinge weer sal uitwerk.
Want uiteindelik kry elke hond, by wyse van spreke, tog maar weer sy of haar dag!
Here, dankie vir goeie dae wanneer ons kan lag en bly wees. Maar help ons om geduldig te bly en U steeds te vertrou wanneer die ongelukkige dae kom. Die dae wanneer ons wil huil. Amen
Carel Anthonissen