Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel …” (Genesis 32:28).
Teen die einde van die vorige eeu verskyn daar ‘n belangrike boek waarin enkele van Duitsland se voorste teoloë vertel hoe hulle denke en insigte, ja, hulle hele lewe, deur die loop van jare verander het.
Trouens, die titel lui: “Hoe ek myself verander het”.
Dit is tog ‘n belangrike gegewe of waarheid, dat mense steeds kan en moet verander.
Ek weet van mense wat sukkel om dit te glo. Wat, soos die spreekwoord lui, daaraan vashou dat ‘n luiperd nie sy kolle kan verander nie. Of dat jy maar sing soos jy gebek is.
So asof die dobbelsteen onherroeplik vir jou verkeerd geval het. Of jy en ander onder ‘n bepaalde ster gebore is, sodat álles, goed of sleg, vooruit bepaal is en jy min daaraan kan doen. Of dat as jy eenmaal ‘n weg gekies het, jy beswaarlik kan of mag omdraai.
Nee, só mag ons tog nie dink nie! Dit is darem net té fatalisties, té yl aan hoop of nuwe vooruitsigte, ander moontlikhede. Boonop gee so ‘n lewensuitkyk of geloof jou die bedenklike toestemming om ook ander op hulle verledes, woorde, reputasie of publieke beeld vas te pen.
Hiervan moet geloof ons tog bewaar. Want wie in ‘n lewende God glo, weet tog mense kán en móét verander. Hulle weet tog dat ‘n bedrieër soos Jakob oornag in Israel verander is.
“Israel” wat beteken: Iemand wat voortaan vir God stry.
O Here, vergewe dat ons leef en praat soos mense wat nie werklik glo in verandering nie. Help ons om U te ontdek as ‘n lewende God wat mense kan verander. Amen
Carel Anthonissen