Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis dra en My volg” (Lukas 9:23).
Om deel te word van die Christusverhaal en só iets van God se liefde te gewaar, is nie so maklik nie.
Dit vra van ons die moed om deel te word van Christus se lydensweg. Om soos Hy, jou eie selfgerigte ambisies en belange op te skort, hulle selfs van minder belang te ag sodat jy allereers vir ander mense beskikbaar kan word en hulle met liefde en sorg kan bedien.
Maar wie is lus vir hierdie soort opoffering, hierdie soort kruis? Veral wanneer daardie ander mense jou irriteer, te na kom en verontreg? Dan wil jy juis afstand neem en seker maak dat jóú belange allereers beskerm bly, jóú reputasie intakt en jóú veiligheid gewaarborg is.
In sy kommentaar oor Lukas 9:23-27 waar Jesus dit uitdruklik stel dat navolging van Hom selfverloëning vra, noem die Switserse prediker, Walter Lüthi, verskeie redes waarom ons traag is om hierdie pad te loop.
Al die redes kom daarop neer dat die koste eenvoudig te hoog lyk. Asof dit heelpad net een stuk ellendige verlies gaan beteken – verlies van jou eie middele, status, invloed, gesonde verstand – ja, alles waarop jý prys stel en waaraan jy sélf so lank en hard gewerk het. Luthi beskryf ons dilemma só: “Ons burgerlike eergevoel het vir ons vandag belangriker geword as die evangelie wat ons in liefde na tollenaars en sondaars wil laat uitreik.”
Maar juis hierin, in hierdie onselfsugtige kruisweg-liefde, so wil Jesus ons leer, lê die geheim van ware vryheid. Hierin skuil ‘n onbekende rykdom, ‘n wins waarvan ons nog min weet of verstaan.
O Here, help ons vandag in ons bewoë land om opnuut die wins van ‘n lewe van selfverloëning en opoffering te leer ken. Amen
Carel Anthonissen