Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning (Deuteronomium 26:9).
Ons teks vir die week wat die Lydenstyd inlui en vir eeue reeds gereeld op die eerste Sondag in Lydenstyd gelees is, is Deuteronomium 26:1-11.
Op die oog af lyk Deuteronomium na ‘n droë boek vol irrelevante wette en voorskrifte. Totdat jy by hierdie hoofstuk, ook bekend as ‘n klein liturgie, kom.
Die gedeelte begin met ‘n herinnering aan God se belofte aan sy volk. Dat God hulle in ‘n beloofde land gebring het en dat hulle nou ‘n bepaalde verpligting het. Dit is om ‘n deel van elke eerste oes te neem en voor God te bring.
Die teoloog, Christina Landman, wys hier op iets eienaardigs. Dit is dat die opdrag lyk asof dit na ‘n land verwys wat primêr vir landbou geskik was. Dít terwyl Deuteronomium 26:9 praat van ‘n land wat oorloop van melk en heuning – albei produkte wat baie min met landbou te make het. Trouens, melk kom van koeie en bokke wat nie op landbougrond wei nie. Net soos met heuning wat jy meesal in bosse, struike en wilde blomme kry.
Hierin, so suggereer Landmann, was ‘n subtiele, maar baie belangrike boodskap vir die volk opgesluit. Dit is dat selfs al was die land nie geskik vir landbou soos hulle miskien verwag het nie, hulle dit nogtans met dankbaarheid uit God se hand moes ontvang en bewerk. Want dit sal uiteindelik ‘n land wees wat oorloop van melk en heuning. Een waarin God hulle te midde van swaarkry sal seën.
Christina Landman formuleer die boodskap vir ons geslag só: “Wy iets van die opbrengs van jou lewe vir die Here, al is jou lewe nie presies of naastenby soos jy gedroom het nie. Bly dank God vir die goed en die sleg.”
So leer ons om God se goeie wil in die moeilike paradokse van die lewe te ontdek. Ja, selfs met verbasing en dankbaarheid te omhels.
Here, leer ons opnuut die groot lesse van die geskiedenis én van die evangelie, dat dinge nooit so sleg is as wat ons dink nie, en dat U in elk geval altyd, in goed en in kwaad, by ons is. Amen
Carel Anthonissen