Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie (Joël 2:12).
Vandag staan volgens die kerklike kalender bekend as Aswoensdag.
Tradisioneel is dit ‘n dag wat vir baie mense ‘n vastydperk inlui.
Gedagtig aan Christus se lyding en die offer van sy liefde wat daarin sigbaar was, is dit ‘n aanmoediging vir baie om in navolging van Christus ook ‘n teken van groter soberheid en offerbereidheid op te rig.
Hetsy deur hulle vir ‘n tyd lank te onthou van sekere middele of mense. Of om doelbewus méér tyd vir stilte en afsondering voor God se aangesig in te ruim.
Om dié rede lui Aswoensdag ook ‘n tydperk van groter verootmoediging en selfondersoek vir die gelowiges in. Dit is ‘n tyd waarin ons opnuut die basis vir ons selfvertroue as mense onder die loep behoort te neem. Waarin ons weer moet vra: Wat gee my selfvertroue, waarop bou ek my sekerhede, waarin bestaan my hoop, wat skep energie, moed en vooruitsig in my lewe?
Is dit my eie, dikwels selfgerigte ondernemings, planne en inisiatiewe? Of ken ek die voorlopigheid, broosheid en ook valsheid van die mens se planne en maaksels? Ken ek sy bedrieglike hart? En soek ek daarom my dieper sekerheid, hoop en vertroue in God, in God se vergifnis en liefde?
Ja, kom ek in dié tyd met my héle hart, my dikwels verskeurde, huilende en berouvolle hart, terug na God toe?
Aswoensdag behoort ons altyd by sulke vrae uit te bring.
O Here, ons keer ons vandag opnuut na U, U wat die bron is van ons lewe. Sonder U is al ons planne en drome voorlopig en dikwels ook so leeg. Wees ons tog genadig! Amen
Carel Anthonissen