Jy moet al die goeie dinge geniet wat die Here aan jou en jou huisgenote gee … (Deuteronomium 26:11).
Daar is tans baie frustrasie, woede en selfs bitterheid onder die mense van ons land. Veral dié wat vroeër in beheer was, voel: alles gaan afdraand, tot niet, word vermors.
Ek verstaan dié gevoel – dit spook byna daagliks ook by my.
En tog moet die evangelie – dit is die blye nuus dat die God van Jesus oor ons lewe beskik, ons lei en oor ons lotgevalle waak — ons tog verder as ‘n ewige gesanik en gekla bring.
Soos Israel van ouds, glo ons tog dat God ons tot hier gebring het, ja, dat God, in die woorde van Deuteronomium 26:1-3, ons hier geplant het, ‘n leefplek aan die suidpunt van Afrika gegun het. En selfs al is die plek nie aldag wat ons gedink het dit moet wees nie, al is dit soms só wild en deurmekaar dat ons soos Israel woestynkos moet leer eet — dit is die spreekwoordelike melk en heuning — leef ons tog steeds onder God se belofte dat ons land daarvan sal oorloop.
Heel konkreet beteken dit, in die woorde van Christina Landman, dat daar ten minste altyd kos op die tafel sal wees.
En dáárvoor, tesame met sovele ander goeie dinge en voorregte, soos die skoonheid van ons land, die rykdom van verskeidenheid, ‘n stewige grondwet, vryheid van beweging en spraak, ‘n gerieflike woonplek, goeie vriende, familie, moet ons tog altyd dankbaar bly.
Here, vergewe ons wanneer ons wanneer ons kla. Dit terwyl ons lewe oorlaai is met u goedheid en u seëninge. Amen
Carel Anthonissen