Boodskap vir Vandag

Search

Blom waar jy geplant is

Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs van die land wat deur die Here aan my gegee is, gebring het (Deuteronomium 26:10).

Die lydenstyd waarin ons nadink oor Jesus se lyding en sy liefdesoffer aan die kruis, is tereg ‘n tyd van verootmoediging, eerlike selfondersoek en soberheid.

En dan nie nét in ‘n negatiewe sin nie, bedoelende dat ons in dié tyd alleen maar berouvol moet gaan nadink oor ons sondes en tekortkominge, die baie maniere waarop ons faal om God se drome vir ons lewe en samelewing waar te maak nie.

Nee, die lydenstyd is ook ‘n tyd waarin ons moet nadink oor ons talle voorregte, geleenthede en talente. Oor die spreekwoordelike opbrengs wat ons daagliks uit die land kry. En hoe ons dit met oorgawe en verbeelding kan inspan vir God se koninkryk. Sodat daar méér geregtigheid, méér heling en méér vrede onder ons mense kan kom.

Anders gestel: In dié tyd moet ons ook besin oor hoe ons voluit kan blom daar waar ons geplant is. Ja, wat my besondere bydrae is wat ek tot die verbetering en die vernuwing van samelewing kan lewer.

Die kruisweg waardeur ons geroep word tot groter verootmoediging en offerbereidheid, dra tog nie toevallig reeds die kiem en die belofte van opstanding en nuwe lewe daarin nie.

En dít moet ook in ons lewe sigbaar word.

Here, wys my vandag opnuut my unieke plek en rol in ons samelewing. En help my om dáár wortel te skiet en te blom. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.