Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

God se genade is elke oggend nuut

Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie. Daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut (Klaagliedere 3:22-23).

Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad… (Jesaja 43:19).

Een van die werklike troosvolle waarhede van die Christelike verkondiging is dat die mens, ja, jý en ék, elke dag nuut kan begin.

Dít ondanks die gevoel van mislukking wat ons so kan verlam. Of die gewig van skuld oor openbare of verborge sondes wat so swaar op ons kan rus. En wat ons verhinder om met selfvertroue en ‘n skoon gewete op te staan en vorentoe te beur, ja, wéér te begin.

Dat ons as gelowiges wel sover kan kom om nuut te begin, spruit ten diepste voort uit die blye ontdekking en die vaste vertroue dat God se genade elke oggend nuut is. Dat daar geen einde is aan God se ontferming nie (Klaagliedere 3:22). En dat ons ons daarom ook nie langer hoef te verknies oor die verlede nie, oor al ons foute, mislukkings en ongelukke nie.

Want God is in beheer. God is besig om nuwe dinge te doen, elke dag. Om deur die woestyn, ja, ons persoonlike woestyne, vlaktes en leegtes, ‘n nuwe pad te maak (Jesaja 43:19). Daarvoor moet ons vandag weer opmerksaam raak.

Sodat ons met nuwe moed en krag kan opstaan en begin leef.

O Here, dankie dat u genade vandag weer nuut is. Help my om vandag weer daaruit te gaan lewe. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.