Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here (Romeine 12:11).
Inderdaad lê die bron en spoorslag vir nuwe beginne in ‘n mens se lewe diep veranker in die ontdekking van God se genade, ja, God se vergewende liefde wat elke dag nuut na ons toe kom.
Maar dit beteken nie dat ons alleen passiewe ontvangers van God se genade moet wees nie. Nee, God verwag ook van ons om daaruit te lééf. Om deur sy genade nuut te begin.
Oor die aard en waarde van so ‘n nuwe begin, het talle skrywers oor die eeue ‘n bydrae gelewer.
- So skryf die bekende digter, Johann Wolfgang von Goethe: “Dit is nodig dat ons bly verander, onsself bly vernuwe en verjong. So nie sal ons verhard en stagneer.”
- Marilyn Grey weer skryf: “Die lewe is nie ‘n kleedrepetisie nie. Hou op om te oefen aan wat jy eendag wil doen. Dóén dit net. Deur een moedige daad, kan jy jou hele dag positief kleur.”
- Mark Twain sluit hierby aan: “Die geheim om voor te kom, is om te begin. Die geheim van begin, is om jou komplekse en soms oorweldigende opdrag in kleiner, hanteerbare take te verdeel. En om dan met die eerste taak te begin.”
- In dié verband herinner Rumi troosvol: “As al wat jy kan doen, is om te kruip, begin dan kruip.”
- En miskien die mooiste van almal, Sint Francis van Assisi se raad: “Begin deur te doen wat nóú nodig is. Doen dan wat moontlik is. En skielik sal jy ontdek: jy doen die onmoontlike!”
Al die aanhalings sê net één ding: Begin net, hoe klein ook al!
O Here, hoeveel dae voel ons nie oorweldig deur ons werk nie. Gee ons vandag die moed en energie om net te begin – hoe klein ook al. Amen
Carel Anthonissen