Op daardie selfde oomblik het ‘n aantal Fariseërs vir Jesus kom sê: “U moet padgee en na ‘n ander plek toe gaan, want Herodes wil U doodmaak” (Lukas 13:31-35).
Ek wonder hoeveel mense die terloopse en tog merkwaardige opmerking in Lukas 13:31 al raakgelees het.
Van hoe ‘n klompie Fariseërs Jesus kom waarsku het om liewer uit die omgewing pad te gee, aangesien Herodes sy bloed soek.
Oor die presiese rede of motief vir die Fariseërs se optrede loop die menings uiteen. Party sien hierin ‘n kwaadwillige motief, asof die Fariseërs as handlangers vir Herodes opgetree het. Dit is nou dieselfde Herodes wat, hoewel aanvanklik nuuskierig oor Jesus, Hom later met veragting sou behandel (Lukas 23:8-11).
Ander weer kry vir die vermeende kwaadwilligheid geen gronde in die teks nie. Sodat hulle in hierdie Fariseërs se optrede tog ‘n gebaar van besorgde welwillendheid herken, selfs al was die meerderheid meesal téén Jesus gekant.
Ons weet eenvoudig nie wat hulle motiewe was nie. Wat ons wél weet, is dat daar onder die bestes van ons, altyd ook bedrieërs, lafaards en skelms skuilgaan. Net so is daar onder hulle met ‘n swak naam of reputasie, altyd ook diegene is – meesal ‘n minderheid – wat ánders is. Wat méér vrae vra, méér besorg is, selfs bereid is om hulle vyand van tyd tot tyd die voordeel van die twyfel te gee.
Soos moontlik hierdie klompie Fariseërs gedoen het.
Wat ons weer daaraan herinner dat ons versigtig moet wees om mense op hulle baadjie te takseer.
En té gou te oordeel.
O Here, bewaar ons daarvan om mense te gou te oordeel. Ook om die balk in ons eie oog raak te sien. Amen
Carel Anthonissen