Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! (Lukas 13:34).
In Lukas 13: 31-35 — wat ons teks vir die week is — is daar ook nog ‘n derde eienaardige trek of wending.
Dit is wanneer Jesus ná sy harde uitspraak oor Herodes skielik ‘n sagter toon aanslaan.
En dít gebeur wanneer Jesus aan Jerusalem en aan die toekomstige lot van hierdie luisterryke stad en sy inwoners dink. Dan versag alles in Jesus. Sy woorde word skielik ‘n hartseer, indien nie ‘n hartverskeurende klag nie.
‘n Klag wat Hom later tot trane sou beweeg (Luk 19:41) en waarin ons een van die mooiste perspektiewe op God se liefde vir mense sien.
Want in hierdie paar verse hoor en sien ons die gebroke en bloeiende hart van God. Hoor ons hoe hoog, wyd en diep die God van Jesus se liefde vir mense gaan. Ja, hoe God daarna verlang om mense soos ons wat dikwels verwilder en verdwaal is, onder haar vlerke te neem – soos ‘n hen haar kuikens (Luk 13:34).
In een van haar minder bekende geestelike liedere genaamd “This is to mother you”, verwoord die sangeres Sinead O’Connor iets van hierdie moederlike liefde van God. Luister gerus daarna as jy kan. Dit is tog aangrypend.
“Child I am so glad I’ve found you, although my arms have always been around you. Sweet bird, although you did not see me, I saw you and I am here to mother you. To comfort you and get you through. Through when your nights are lonely, through when you dreams are blue. This is to mother you.”
Die vraag is: “Ken jy hiérdie God?” Die groot wonder bly dat Jerusalem hierdie woorde kon hoor toe die inwoners totaal afsydig van Jesus was.
O Here, laat ons vandag tog weer hoor én voel wat dit beteken dat U ons gedurig soos ‘n moeder wil versorg. Amen
Carel Anthonissen