Toe antwoord Jesus: “Ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle wees en julle verdra? (Lukas 9:41).
Dit bly ontstellend om te sien en te hoor hoe sogenaamde beskaafde mense deesdae in ons land teenoor mekaar optree en tekere gaan.
Hoe hulle mekaar byna op ‘n roekelose manier beskuldig, uitkryt, beledig en verwyt.
Wat weer wys hoeveel onverwerkte pyn, onderdrukte woede en blinde vooroordeel nog in baie van ons leef. En hoe dun die laag van beskawing blyk te wees wanneer hierdie emosies toegelaat word om vrylik en onbeheersd uit te bars.
Gewoonlik sit so ‘n vloed van kwade en irrasionele gevoelens ook ‘n siklus van wedersydse blaam aan die gang, wat onophoudelik teer op ongesonde, indien nie sieklike vorms van trots, selfhandhawing en eiegeregtigheid nie.
Het ons werklik die evangeliese waarhede wat ons hiervan moet red, vergeet? Het ons vergeet dat ‘n mens eers goed moet luister vóórdat jy oordeel? Of dat om eie foute te erken, nooit ‘n verlies of skande beteken nie, maar ‘n waarmerk van grootsheid is – ‘n grootsheid wat altyd nuwe weë tot vergifnis en versoening oopmaak. Het ons vergeet dat die slegte wat jy in ander vind, meesal net ‘n projeksie van eie onbewuste en onverwerkte komplekse, vrese en frustrasies is?
En dat ‘n mens dít ook eerlik in die oog moet hou vóór jy begin praat of optree.
So nie sal die klag van Jesus ook van óns geld – dat ons wat bely dat ons Christen-gelowiges is, eintlik niks meer as ‘n ongelowige en ontaarde geslag is nie.
O Here, vergewe ons opnuut ons tweeslagtigheid – dat ons U as Heer bely, en dan leef asof U nie bestaan nie. Help ons om te leef van u woorde. Amen
Carel Anthonissen