Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ons mag dít maar hoop

Vra na die wil van die Here, terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is (Jesaja 55:6).

Selfs nadat ‘n mens gehoor het van God se beloftes wat jou moet bemoedig en tot nuwe geloof en selfvertroue beweeg, kan dit gebeur dat jy steeds magteloos en lam voel.

Nie werklik in staat is om aan die gang te kom of om jouself uit te haal uit die gat waarin jy jou bevind nie. Nie die energie het om die moontlikhede van verandering aan te gryp nie.

Byna soos die volk Israel wat toegelaat het dat ‘n sekere vorm van apatie, onverskilligheid en passiwiteit tydens die ballingskap by hulle posgevat het. Sodat hulle ‘n valse soort vrede met hulle slegte omstandighede gemaak het. En nou geen beduidende veranderinge meer verwag het nie.

Selfs met ongeloof en groeiende skeptisisme na die profeet se groot beloftes geluister het.

Die eerste tree om hierdie staat van ongeloof – of kom ons noem dit liewer kleingeloof – te bowe te kom, is eenvoudig om dit te erken en te bely. Die Lydenstyd is nie verniet ‘n tyd van groter eerlikheid en verootmoediging nie.

Wie só met hulle armoede na God kom en ernstig na God roep, mag maar hoop dat God hulle sal verhoor en wys waar hulle huidige verhaal by God se planne en weë inpas.

Selfs al neem dit tyd.

O Here, ons bely opnuut ons kleingeloof in ‘n tyd soos hierdie. Tog staan u belofte vas dat wie na U roep nooit beskaam sal word nie. Gee ons daartoe die moed. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.