Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry (Lukas 15:32).
Is daar nog iets nuuts uit Lukas 15:11-32 – die bekende verhaal van die sogenaamde verlore seun – te leer?
Tog wel, mits ‘n mens die verhaal opnuut, met biddende aandag en eerlike verwagting lees. Ook vra: Hoe raak dit my lewe vandag?
Die eerste wat in die verhaal opval, is hoe die ondenkbare waar word. In dié geval: Hoe iemand wat God afgeskryf en ankerloos geraak het, onverwags weer tot besinning kom. Sy geloof en vreugde herwin. Weer by homself, God en ander tuiskom.
Die dag toe die jongste seun sy erfdeel voortydig opgeëis het, vóór sy pa se afsterwe, het hy sy pa so goed as dood verklaar. Ook nie omgegee vir die pyn en skande wat dié onbesonne daad oor jare vir die pa sou meebring nie.
Kan daar ooit weer herstel of heling ná so ‘n blatante breuk kom, vergifnis ná so ‘n opstand, liefde ná so ‘n daad van minagting en verraad?
In die gewone lewe is dit nie maklik nie, indien enigsins moontlik. Daarvoor is die wonde dikwels net té diep. Die pyn van verraad té skerp. Die bron en moed tot vergifnis té klein.
Maar in dié verhaal verloop sake anders. ‘n Verlorene keer terug. Vergifnis word aangebied. Die vreugde van bevryding breek deur. Wie dood was, begin weer lewe. Wat ondenkbaar is, gebeur.
Tot vandag toe bly dit die blye en verrassende boodskap van hierdie verhaal. Wat meer is: Dié boodskap geld ook vir jou vandag, maak nie saak hóé diep jou skuld of hoe donker jou verlede is nie.
O Here, dankie vandag weer vir die wonder van herstel en heling. Ja, dankie dat die ondenkbare wel nog kan gebeur, danksy u onbegryplike genade. Amen
Carel Anthonissen