Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry (Lukas 15:20).
Dit was die Duitse teoloog, Helmuth Thielicke, wat ons daarvan bewus gemaak het dat die gelykenis van die verlore seun eintlik meer oor die Vader as oor die seun handel.
Sy boek “The Waiting Father” fokus hierop en word vandag nog daarvoor waardeer.
Inderdaad gaan dit primêr in die storie oor die Vader – oor sy pyn en hartseer, sy verlange dat die kind tog eendag weer sal terugkeer. En dan die lang wag, elke dag, om te kyk of daar nie tóg iewers ‘n teken van sy terugkoms is nie.
Tot die ondenkbare gebeur wanneer die kind eendag as ‘n stippeltjie op die horison verskyn. Daarná die herontmoeting waar skuld en skaamte in een oomblik van tere en innige omhelsing doodgesmoor word. En die vreugdevure kort daarna begin brand.
Lydenstyd is ‘n tyd om in die lig van hierdie ontroerende storie weer bewus te word van God se intense, maar ook merkwaardige liefde vir ons. ‘n Liefde wat ons allereers toelaat om vry te wees. Selfs weg te breek en ons eie koers te gaan.
Maar dan ‘n liefde wat verlang om ons tuis te bring. Wat bly wag, bly hoop – ja ons bly jammer kry, bly opsoek, bly herinner. Totdat die verlange weer ontwaak, die onrus té sterk word. En ons gedring word om na God terug te draai. Om dáár die verrassende ontdekking te maak dat God ons nog nooit vergeet het nie. Ja, dat God ‘n vergewende God is wat alles sal gee, selfs sy lewe, om ons as sy geliefde kinders te behou.
Is daar iets groters wat met ‘n mens kan gebeur?
Here, u goedheid bly onpeilbaar. Ons kan alleen in dankbare aanbidding daarvoor kniel. Wat ons nou ook wil doen. Amen
Carel Anthonissen