Toe sê die pa vir hom: Kind, jy is altyd by Pa, en alles wat Pa het, is ook joune (Lukas 15:31).
Daar bestaan ‘n aangrypende gebed van die gewese leier van die Taizé-gemeenskap in Frankryk, die bekende broer Roger.
Die gebed is bedreiglik eenvoudig, maar dit druk op ‘n ontroerende manier iets uit van die misterie van God se liefde, soos dit geleidelik sigbaar word in die gelykenis van die verlore seun.
Die gebed lui:
Christus Jesus, jy was altyd ín my, en ek het dit nooit geweet nie. Jy was daar en ek het nooit na jou gesoek of gekyk nie.
Nou dat ek jou gevind het, is daar in my die verlange dat jy my hele lewe sal vul en beset. ‘n Vuur het in my begin brand.
En tog, so dikwels begin ek weer van jou vergeet. Dít terwyl jy nooit ophou om my te bemin en lief te hê nie.
O Christus, jy plaas in elke mens ‘n ewigdurende woord: die woord van God se vergifnis en van sy vertroue in ons.
Ek het geen idee wat jy vandag doen of waar jy reis nie. Maar miskien kan dit jou help om net weer dáár waar jy is, stil te word en hierdie gebed te bid. En só opnuut in God se liefde te gaan rus.
Want daar is geen groter liefde nie.
Here, gee my vandag die moed om weer te bid en in u liefde te gaan rus. Amen
Carel Anthonissen