Luister, julle dowes, kyk, julle blindes, dat julle kan sien (Jesaja 42:18).
Luister ons na Jesaja se vermaninge dat Israel aandag moet gee, moet luister en kyk (Jesaja 42:18; 43:1), word dit al hoe duideliker wat die volk se kroniese sonde en sy eintlike kwaal was.
Dit is naamlik dat die volk – in eietydse taal gestel – totaal aandag-afleibaar geword het.
En dit nie net soos ‘n leerder wat tydelik sukkel om te konsentreer nie, maar veel ernstiger. As ‘n volk wat toegelaat het dat hulle aandag versplinter en hulle lojaliteite verdeel is. Sodat die troue God van hulle voorgeslagte nie langer ‘n sentrale rol in hulle lewe gespeel het nie.
Geboei en weggevoer deur ánder gode (Jesaja 42:17), het die volk blind en doof geword (Jesaja 43:8), hulle onderskeidingsvermoë verloor, hulle prioriteite verwar en dubbelslagtig begin leef. Miskien het hulle monde nog af en toe van God gepraat, maar in hulle harte – daar waar ander stemme die botoon begin voer het – was God net ‘n gedagte wat af en toe opgeduik het.
Is dit nie ook die versoeking van ons tyd nie? Dat ons aandag voortdurend in ‘n eindelose warreling van nuwe prikkels, aansprake en invloede afgelei en verdeel word nie? Sodat daar nie meer ‘n sentrale fokus is waaruit ons leef nie. Nie meer één God is wat ons herinnering beset, ons hart en gedagtes gevange hou en rondom wie alles draai nie.
Ja, talloos inderdaad is die moderne gode en magte wat ons aandag vandag in beslag neem en versplinter – magte soos geld, besittings, die nuutste tegnologiese uitvindings, glans, status, posisie en invloed.
Maar só, sonder dat ons dit altyd goed besef, word ons lewe algaande uitgehol en meer oppervlakkig.
O Here, vergewe dat ons so verstrooid en dubbelslagtig leef. Vergewe dat ons van U vergeet, U nie meer elke dag ag of volg nie. O Here, maak ons oë opnuut oop om U te sien. Amen
Carel Anthonissen