Doen alles sonder kla of teëpraat. Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense (Filippense 2:14-15).
Om positief uit God se beloftes te leef, beteken onder andere dat ons vanuit ‘n diep innerlike vrede en vryheid sal leer optree.
En nie toelaat dat ander se komplekse, dwaashede en kleingeestigheid ons gedrag bepaal nie.
In Suid-Afrika is dit iets wat deesdae gans te maklik gebeur. Dat ons optrede reaktief en daarom negatief, voorspelbaar en selfs vervelig raak. Want as dit nie politieke leiers se kortsigtigheid is wat ons frustrasievlakke opjaag nie, is dit die onverskilligheid van talle motoriste wat ons dag omkrap. Of die sinlose geweld wat ons stemming beduiwel.
En dan kla en sug ons weer. Of neul rondom braaivleisvure tussen vriende waar ons ons frustrasies luidkeels kan aankondig en uitpak. En heeltyd laat ons toe dat ander se slegte gedrag en onverskilligheid ons stemming en uitsig op die lewe bepaal.
Nee, só onvry en stereotiep mag ons nie leef nie. As kinders van God wat glo aan God se heerskappy op aarde, moet ons die negatiewe en die bose gedurig troef en oorstyg met ‘n lewe vol vars verbeelding, nuwe inisiatiewe en hardnekkige hoop.
Dit bly ons groot uitdaging in Suid-Afrika vandag.
Here, maak ons vandag vry om u Koninkryk bo alles te soek. Amen
Carel Anthonissen