Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie (Psalm 118:1).
Psalm 118 wat een van ons tekste vir die week is, was volgens oorlewering die groot Hervormer, Maarten Luther, se geliefkoosde psalm.
So het hy eenmaal aangrypend oor dié psalm geskryf: “Die psalm het my van baie kwellinge en beproewinge gered op ‘n stadium toe geen keiser of koning, geen kundige wysgeer of geslepe skelm, selfs nie eers ‘n heilige, my kon help nie.”
Die vraag ontstaan natuurlik: “Vanwaar die besonderse troos en betekenis van hierdie psalm?”
Vir ‘n antwoord op dié vraag hoef ons nie te ver te gaan soek nie. Oor en oor verklaar die psalmdigter die geheim self, gee hy ons die sleutel. Dit naamlik lê in die blye ontdekking wat duisende gelowiges reeds oor die eeue gemaak het – een wat hulle in die slegste omstandighede denkbaar en dikwels teen alle verwagtinge in steeds regop gehou en laat aangaan het.
Dit is dat daar ‘n God bestaan wat góéd is en wat elke dag liefdevol omsien na sy kinders. ‘n God wat gebede verhoor (Ps 118:5) en by wie ons kan skuil wanneer alle ander planne en selfs mense ons faal (Ps 118:8-9). ‘n God aan wie se liefde daar geen einde is nie (Ps 118:1). Of soos Eugene Peterson dit stel: ‘n God wie se liefde ons nooit laat vaar of prysgee nie – “God’s love never quits.”
Die groot vraag bly of ons dit weet en hierop bly vertrou. En belangriker nog: of ons vandag weer bereid is om ons met gebed en smeking na hierdie God te draai?
Sodat God ons kan vashou en met God se onverganklike liefde dra.
O Here, saam met die psalmdigter draai ons ons vandag opnuut na U en dank ons U vir u troue en onverganklike liefde. Amen
Carel Anthonissen