Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

‘n Laaste toevlug

Dit is deur die Here gedoen en is ‘n wonder in ons oë! (Psalm 118:23).

Psalm 118 waaroor ons hierdie week saam nadink, is allereers die dank en pryslied van ‘n enkeling.

Na allerlei aanvegtinge en hulpkrete na Bo, ontdek die individu opnuut God se troue liefde wat mense in nood kan help en bystaan. En daarvoor begin hy dan God onophoudelik dank en prys (Ps 118:1-14, 28-29).

Maar nou gaan hy ook ‘n stap verder. Hy hou sy blyvolle ontdekking en lof nie net vir homself nie. Hy neem dit tempel toe, getuig daarvan in die gemeenskap van gelowiges. Sodat almal rondom hom later met verwondering begin uitroep: “Dít (hierdie uitredding) is deur die Here gedoen en is ‘n wonder in ons oë!” (Ps 118:23).

En so versterk hy nie net hulle geloof nie, maar word sy geloof ook deur hulle herken, beaam versterk.

Oor hierdie versterking van ‘n mens se geloof deur die ander skryf die Duitse teoloog, Helmuth Thielicke, aangrypend:

“‘n Paar jaar gelede vertel iemand aan ‘n vriend van my die volgende: ‘Ná die oorlog kon ek nie langer glo nie. Ek het te veel gesien. Maar ek het oorleef, omdat ek geweet het daar is nog mense wat kan glo’. Met ander woorde, hy het bly kyk na hulle wat die moed gehad het om nog te bid, hulle wat skynbaar die selfvertroue ontvang het wat hy gemis het.”

“Miskien”, so skryf Thielicke dan, “bly dit ons laaste toevlug wanneer die donker wolke ons oorval. Om te weet daar is ‘n gemeente wat God nog dank en prys, ‘n skare gelowiges wat hulle hande namens my oplig wanneer ek geen woord meer kan uiter nie. Of so siek en gedaan is dat ek nie meer beheer oor my eie stem of gedagtes het nie.”

Is dit nie wonderlik nie – dat God ons só deur die geloof van ander kan dra nie?

O Here, dankie vir hulle wat my vandag deur hulle gebede en geloof bly dra. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.