Om God in die dans te ontmoet
Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke! (Psalm 118:27).
In ‘n boeiende artikel met die naam “Teologie en die Toekoms” herinner die bekende filosoof-teoloog, Hennie Rossouw, ons aan iets wat nie so onbekend is nie.
Dit is naamlik die verlies aan enige gevoel vir ‘n Godheid of ‘n Hoër Wese wat die gees van ons tyd vandag so beslissend en duidelik stempel.
Weliswaar – so voer Rossouw aan – hoef hierdie Godsverlies of -verduistering nie permanent te wees nie. Trouens, dit bly steeds moontlik om ‘n sin vir die misterie en transendensie van ‘n Godheid te herwin. Maar dan, so skryf Rossouw, sal die Christelike gemeenskap dit moet waag om die verlossing of heil van God wat Christus gebring het, openliker en sigbaarder te vier.
In dié verband haal Rossouw die bekende Amerikaanse teoloog, Harvey Cox, aan wat op ‘n stadium geskryf het: “If God returns, we may have to meet God first in the dance, before we can define God in the doctrine.”
Wie Psalm 118 goed lees, sal onmiddellik raaksien hoe dít die pad is waarop die digter ons vandag weer wil lei. Naamlik om binne die gemeenskap van gelowiges opnuut die oneindige liefde van God vir mense te gaan ontdek (Ps 118:19-21).
En dit dan openlik aan te kondig en te vier, selfs dansend te vier — sodat ‘n soekende en twyfelende wêreld miskien weer kan begin glo.
O Here, ons weet nog so min van U, daarom twyfel ons en verval ons in ongeloof. Wys ons vandag weer die pad na nuwe geloof, ja, na U self toe. Amen
Carel Anthonissen