Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee (Matteus 11:28).
As ons toewyding as Christene gemeet moet word aan die manier waarop baie van ons die feesdae van die Christendom vier, is ek bevrees vaar ons nie baie goed nie.
Vir baie het Kersfees en veral Paasfees niks meer as ‘n vakansie-naweek geword nie, ‘n geleentheid om weg te kom van jou gewone werk en roetine.
Onlangs op ‘n vlug tussen Kaapstad en Johannesburg lees ek aan boord die volgende advertensie van ‘n bekende motorverhuringsmaatskappy: “Almal verdien ‘n wegkomkans. ‘n Kort wegbreek in Paastyd sal beslis ‘n soete wegbreek wees. So waarom nie hierdie Paastyd van ons dienste gebruik maak nie.”
Dit is duidelik: die sekulêre en veral die kommersiële wêreld weet min van dít waaroor Paasfees eíntlik gaan. Trouens Paasfees word in dié kringe, byna asof vanselfprekend, opgeeïs as ‘n geleentheid vir wegbreek en natuurlik ook vir eie bemarking en gewin. Of dan as ‘n tyd om meer geld te bestee.
Geen mens wil ‘n nat vadoek wees en mense se welverdiende rus of beplande uitstappies bederf nie. Paastyd mag inderdaad ‘n geleentheid hiertoe bied, solank ons onthou dat Paasfees ‘n dieper geheim of boodskap bevat. Dit is dat die gestorwe Christus opgestaan het uit die dood om so die magte van sonde en dood te oorwin. Sodat ons te midde van onreg en chaos met groter vertroue, vreugde en gelatenheid kan gaan leef.
Ook uiteindelik wanneer alles verby is ‘n dieper rus kan binnegaan. Want, so vertel die evangelies ons, die ware rus en sorgvrye lewe wortel in Hom.
En dié geheim of boodskap moet veral gedurende hierdie besonderse tyd van die jaar saam met ander gelowiges gedenk en gevier word.
Here, die Paasnaweek lê voor. Help ons om dié naweek in stille eerbied by U kruis te vertoef. Maar dan ook met vreugde in U opstanding en U oorwinning te rus. Amen
Carel Anthonissen