Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” (Johannes 19:28).
Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30).
Waarom het Jesus aan ‘n kruis ‘n skandelike dood kom sterf, waarom sy lewe so vrywilliglik vir elkeen van ons kom aflê?
Volgens die Evangelie van Johannes het Jesus daarmee God se liefdeswil om mense van hulle diepste nood en angste te bevry kom uitvoer.
Sy laaste twee kruiswoorde maak dit duidelik.
Die eerste was toe Hy uitgeroep het: “Ek is dors.”
Hiermee, so voer geleerdes aan, het Hy nie net in die verskriklike uur van sy dood sy intense dors na water aangedui nie. Jesus het daarmee veral sy dieper behoefte verwoord om God se wil in hierdie uur van twyfel en angs deur te voer.
Vroeër reeds, so lees ons in Johannes 18:11, het Jesus laat blyk dat Hy die beker moes drink wat God die Vader aan Hom sal gee. En nou, wanneer Hy sy laaste asem uitblaas, kan Hy tereg uitroep: “Dit is volbring!” Oftewel:” Ek het die bittere beker van God geledig!”
Hopelik speur jy dit reeds hoe in hierdie twee kort kruiswoorde die lig van Paasfees, die lig van nuwe lewe en vryheid, reeds begin te skyn.
Want deur God se wil te volbring, het Jesus ook óns dieper nood en behoeftes, ja, ons diepste honger en dors in gedagte gehad.
En daar iets aan gedoen!
Here, dankie dat U dors was ter wille van ons, sodat ons diepste honger en dors ook vandag weer bevredig kan word. Amen
Carel Anthonissen