Toe het hulle sy woorde onthou en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel (Lukas 24:8).
Dit is duidelik dat Lukas se eerste verhaal oor Jesus se opstanding uit die dood in Lukas 24:1-12 nouliks as ‘n klinkklare bewys dat dit wel gebeur het gebruik kan word.
Want al wat die vroue in hierdie vroeë môre-uur aangetref het, was ‘n oop graf. En daarnáás twee boodskappers met blink klere wat hulle skok en skrik verder versterk het. Sodat hulle ‘n kort oomblik lank deel geword het van die verwarring, twyfel en ongeloof wat kort ná Jesus se opstanding geheers het (Luk 24:11).
Maar dan word hulle op ‘n wonderlike manier deur vreemdelinge se woorde (Luk 24:5-6) op die pad van die herinnering teruggeneem. En onthou hulle skielik Jesus se eie woorde, dat Hy vervolg en gekruisig sou word en op die derde dag weer opstaan (Luk 24:7).
Dit is asof die hele prentjie skielik duidelik word. Sodat hulle oorstelp en opgewonde sou terughardloop om te vertel wat hulle gesien en ervaar het.
Vandag bly hierdie getuienis of verkondiging van die vroue en van almal wat in hierdie unieke ervaring gedeel het, steeds die onwrikbare fondament van ons geloof in Jesus se opstanding.
Om dié rede hoef ons nooit te probeer om Jesus se opstanding te bewys nie – ons kan dit eenvoudig met dankbare verwondering en blydskap vier.
Net soos die vroue en die apostels daarna gedoen het.
Here, dankie vir die getuienis van vroue wat ons voortdurend weer herinner aan u woorde en u beloftes. Saam met hulle wil ons vandag weer u opstanding vier. Amen
Carel Anthonissen