Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Christus sigbaar kan word in ons liggaam (2 Korinthiërs 4:10).
‘n Ander manier om die praktiese uitwerking van Jesus se opstanding te beskryf, is om te sê dat dit ‘n ongekende soort geborgenheid of sekerheid aan ons lewe verleen.
Dit is tog wat Paulus bedoel wanneer hy ons daaraan herinner dat Christus se opstanding ons finaal aan die invloed van donker magte ontruk het. Sodat ons voortaan onder Christus se heerskappy kan leef – veilig en geborge in sý liefde (Kol 1:13).
Natuurlik verskil hierdie geborgenheid van dié soort veiligheid of sekuriteit wat ons gewoonlik soek, naamlik ‘n veiligheid wat meesal uit vrees en wantroue gebore word. En wat dikwels daartoe lei dat ons ons agter hoë mure en veiligheidshekke afsonder en verskans.
Nee, die geborgenheid of veiligheid wat Christus ons bied, is iets anders. Dit groei namate ons dit waag om juis ons fisiese en emosionele skanse te verlaat en met groter liefde en vertroue buite in die wêreld te gaan leef.
Net soos Christus wat homself voortdurend in liefde vir ander oopgestel het.
Wanneer sal ons tog hierdie groot geheim ontdek waaroor Paulus dit in 2 Korinthiërs 4:7-11 het? Dit is dat egte geborgenheid of sekuriteit uiteindelik geleë is in die moed tot weerlose liefde en diens.
Dit is die moed om aan jou eie vrese en ambisies te sterf en God se krag en beskerming in die navolging van sy wil te vind (2 Kor 4:10).
Here, gee ons vandag weer die moed om weerloos met liefde te gaan leef en só te ontdek dat ons daarmee ons toekoms veilig stel. Amen
Carel Anthonissen