Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys (Efesiërs 1:12).
Dit is duidelik dat die opstanding van Jesus ‘n vonk verskaf het wat die volgelinge van Jesus, ja, sy kerk, tot ‘n nuwe vorm van lewe geïnspireer het.
Ook tot ‘n vrymoediger getuienis aangemoedig het.
Ná Jesus se opstanding, so betoog die teoloog Emile Brunner, sou die kerk ‘n draer van hoop in ‘n wêreld vol doodloopstrate wees. Selfs terwyl die mens se bestaan nog ‘n doodsreuk gehad het, sou die kerk léwe verkondig.
En daar waar die dood steeds die agtergrondmusiek in almal se lewe is, en ons besef dat almal eendag sal doodgaan en elke rekening met dieselfde saldo sal sluit, sal die kerk steeds met hoop bly leef, omdat Hý nie langer in die graf is nie.
Trouens, die kerk se blywende versugting is en behoort, in die woorde van ‘n bekende gebed uit die Lutherse tradisie, altyd te wees:
“Merciful God of might, renew this weary world, heal the hurts of all your children, and bring about your peace for all in Christ, the living Lord.”
O barmhartige God, vernuwe vandag ons wêreld, heel almal wat stukkend is en gee tog vrede aan ons almal. Amen
Carel Anthonissen