Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook (1 Johannes 3:1).
In dié dae loop ek meer dikwels mense raak wat, terwyl hulle openlik sê dat die Bybel steeds baie vir hulle beteken, sukkel om aan God as ‘n persoonlike God te dink of te glo.
Laat ek eerlik wees: Ek verstaan nie die logika nie. Trouens, so ‘n siening klink teenstrydig. Boonop kan dié siening beswaarlik ʼn beroep op die Bybel doen, behalwe as die Bybel baie selektief en selfs met ‘n bepaalde vooroordeel gelees word.
Want sien, dit verg net ‘n kort kykie in die Bybel om te weet dat die Godheid wat hier ter sprake is Een is wat openbaar gemaak is, selfs ondanks die baie aanduidings van God se naam en werke – allereers in die geskiedenis, maar ook in die natuur.
Méér nog: Die Bybelse God is Een wat, so word oor en oor vertel, boonop innige moeite met mense doen. Dit is ‘n God (en daarvan vertel die Nuwe Testament ons meer) wat in en deur Jesus selfs sover gegaan het om te sê — en dit ook openlik te toon — hoe lief God mense het, ja, selfs baie méér nog as wat hulle ooit sal besef.
Die Bybel vertel verder dat wie hierdie liefde van God in Christus positief beantwoord, ja, wie dit waag om in en vanuit hierdie liefde te gaan leef, se lewe word onherroeplik verander.
En dit áltyd ten goede.
Hierdie verandering is ons almal beskore, mits ons bereid is om God se kinders genoem te word. En toe te laat dat God sy liefde aan ons bewys.
O Here, dit gaan my verstand te bowe dat U as die grote Skepper van alles ‘n stoflike mens soos ek kan liefhê. Gee my vandag weer die moed om dít te glo en uit u liefde te gaan leef. Amen
Carel Anthonissen