As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry (Johannes 15:7).
Onlangs lees ek weer die skrywer CJ Langenhoven se brief aan ‘n twyfelende student.
Dit kom uit sy Versamelde Werke I en is ‘n aangrypende getuienis van sy geloof in die persoonlike God van Jesus Christus.
So skryf hy aangrypend aan die einde van sy brief:
“Toe ek ‘n kind was, het ek niks geskroom om die Almagtige te soebat om my siek hondjie tog nie te laat doodgaan nie … Ag, wat help dit om weg te steek – ek skroom vandag nog nie! … En met die oog op wat Jesus van die mossies sê, is so ‘n gebed nie benede die Aangeroepene se notisie nie. Daar is ‘n kind om sy Vader se hulp verleë.
“My vriend, sal die Vader nie jou bittere geloofstryd aansien en nie jammer kry vir sy kind wat om sy ontwil ongelukkig is nie? Verborgenhede sal Hy jou nie openbaar nie: Watter reg het jy op sy geheime, watter verwaandheid om sy raad te wil indring? Maar soveel hemelse lig as wat nodig is vir jou hulp en heil hier op die aardse pad, sal Hy op jou laat skyn, en wat onbillik is sal Hy nie van jou vorder nie. Maar vra Hom watter geloof Hy van jou verwag: Hy is verplig om te antwoord. Op Hom, soos op jou, rus die plig van die liefde.”
Dit is vertroostend om te weet dat iemand so slim, bekend en groots soos Langenhoven, só kinderlik voor die aangesig van sy God kon leef.
O Here, gee ons vandag weer daardie kinderlike geloof wat nie skroom om U ons sorgende Vader te noem en gedurig tot U te bly roep nie. Amen
Carel Anthonissen