In al ons sorge is ons vol moed en oorstelp van blydskap (2 Korintiërs 7:4).
Onlangs hoor ek oor die radio ‘n boeiende praatjie oor die verskynsel van bi-polêre depressie.
Vir die wat nie weet nie, dit is daardie vorm van depressie waar mense by tye deur ‘n gevoel van onbeperkte euforie en optimisme meegevoer word – ‘n maniese staat wat hulle laat kans sien om berge te versit. Net om daarná weer in ‘n donker gat van neerdrukkende uitsigloosheid af te sak – ‘n ervaring wat hulle dae lank kan verlam en van alle lewensenergie ontneem.
Die troos en waarde van die radiopraatjie was dat die spreker hierdie vorm van depressie duidelik van die normale fases of ritmes van die lewe onderskei het waardeur almal van ons gereeld gaan.
So noem hy byvoorbeeld dat dit nie ongewoon is om by tye ‘n sogenaamde blou Maandag te beleef nie. Dit is daardie dae wanneer dinge net nie wil uitwerk nie. En jou stemming negatief ondermyn word. Sodat jy ten minste vir daardie dag of oomblik bekaf of verlep voel.
Mense praat ook van ‘n Sondaggevoel wat jou onverwags kan oorval. Dit is wanneer alles tot stilstand skyn te kom en ‘n soort verlatenheid, selfs ‘n leë eensaamheid oor jou kom.
Gelukkig, so voer die spreker aan, hoef hierdie sporadiese rondtes van bedruktheid nie op depressie te dui nie. Want vir mense wat volskaalse depressie vrygespring het, is die meeste dae tog sonnig en vol opwinding en nuwe uitdaginge.
Dus, ons mag maar ontspan en die goeie lewe bly geniet!
Solank ons hulle bly onthou vir wie die lewe meesal swaar en donker is.
Here, dankie dat U, ondanks ons sorge, ons help om vrolik en blymoedig te wees. Amen
Carel Anthonissen