Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie (Johannes 10:26).
‘n Dissipline wat ek graag wil aanbeveel, is dat ‘n mens elke week ‘n waarheid of ‘n teks sal vind waaruit jy, ten minste dan vir daardie week, kan gaan leef.
Dit moet ‘n teks wees wat jou so inspireer en opgewonde maak dat jy dit graag met ander wil deel.
Verlede week was my teks uit Johannes 10:22-30 waar Jesus ‘n skare Jode tereggewys het omrede hulle alles ontvang het wat hulle kon help om in Hom te glo: sy woorde, beloftes en veral ook sy dade. “Maar,” so hoor ons Jesus dan opmerk, “julle glo nie omdat julle nie van my skape is nie” (Joh 10:26).
Hoor julle hierdie groot waarheid wat in die teks gesuggereer word? Dit is dat geloof allereers ontstaan en groei vanuit die moed om betrokke te raak, dit wil sê vanuit ‘n doelbewuste keuse om te behoort, om deel te wees van Jesus se kudde, in te skakel by dié groep wat sy pad loop.
Hierdie keuse kom altyd eerste op die pad van die geloof.
Pragtig verwoord die vroulike teoloog, Debie Thomas, hierdie waarheid:
“According to this text, whatever belief I arrive at in this life will come not from a creed or a cleverly worded sermon, but from the daily, hourly business of belonging to Jesus’ flock — of walking in the footsteps of the Shepherd, living in the company of fellow sheep, and listening in real time for the voice of the one whose classroom is rocky hills, hidden pastures, and deeply shadowed valleys. If I won’t follow him into those layered places — places of both tranquility and treachery — I will never belong to him at all.”
Jy moet tog saamstem, dít is ‘n wonderlike waarheid!
Here, dankie dat ons deel kan wees van u kudde, dat ons mag behoort. Help ons om vandag weer te ontdek hoe dit ons geloof kan versterk. Amen
Carel Anthonissen