Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Genade bly die sleutel

Niemand sal hulle uit my hand ruk nie (Johannes 10:28).

Wie kies om deel te raak van Jesus se kudde, kan hulle gereed maak vir ‘n paar verrassende ontdekkings.

Hulle sal byvoorbeeld ontdek dat hulle lewe, maak nie saak hóé broos, onbestendig en onvoorspelbaar dit soms kan raak nie, op ‘n wonderlike manier vasgehou en bewaar word.

Dít is so omdat Jesus ‘n Herder is wat beloof het dat Hy sy kudde nooit in die steek sal laat nie. Dat Hy hulle onder alle omstandighede sal lei en versorg sodat niemand hulle, by wyse van spreek, uit sy hand sal kan ruk nie (Joh 10:28).

Ons moet regtig ‘n oomblik biddend by hierdie kort, maar kragtige vers vertoef. Want dit beteken selfs wanneer die ergste denkbare rampe of terugslae my tref, of ek totaal verdwaal en verward is, ek steeds mag weet: Die God van Christus sal my nooit verlaat of alleen los nie.

Hy is die goeie Herder wat beloof het om my in die skaduwee van die dood by te staan (Ps 23:4) – my ook in dié lewe te bly soek, selfs wanneer ek, vanweë my eie dwaashede, totaal verdwaal en verlore geraak het (Luk 15:3-7). Dít is wat sy genade beteken.

In die woorde van pous Francis: “Genade is die sleutelwoord van die Bybel. Daarom moet ons nooit bang wees nie. Ons moet toelaat dat God se genade wat nou op ons wag en ons wil vergewe, ons ook sal vind.”

Die vraag bly natuurlik of ons hierdie troostende Stem ken en daarna luister?

O Here, wat ‘n troos om te weet dat ons lewe vir tyd en ewigheid in u genadige hande is. Help ons om elke dag in hierdie versekering te rus. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.