Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar uit enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is (Handelinge 10:34-35).
Dié week se teks uit Handelinge10:1-11:18 roep ons op om, soos Petrus, met ‘n oop gemoed, vriendelike oog en ‘n milde hand teenoor alle mense te gaan lewe.
En dít omdat ons, soos Petrus, ontdek het dat die God van die Bybel, die God van Christus wat ons aanbid en volg, alle mense – ook rou heidene en afvalliges – kan aanvaar, vergewe en by sy kudde insluit.
Christus wat God se liefde vergestalt, was hiervan ‘n onvergelyklike voorbeeld. Want nooit het Hy homself toegelaat het ander vas te pen en af te skryf bloot op grond van hulle uiterlike voorkoms, gedrag of slegte reputasie nie.
Hoe verskil so ‘n houding nie van politici soos Donald Trump en baie ander nie wat met hulle ras-behepte houding en slagspreuke mense gedurig vervreem en ontstel!
In dié verband noem iemand tereg dat ons vandag veral ook ‘n sin vir die tragiese moet ontwikkel. Sodat ons beter kan raaksien en verstaan waar mense vandaan kom, hoekom hulle is wie hulle is en waarom God hulle steeds durf liefhê.
Wie só ‘n sin ontwikkel het, sal dit inderdaad moeilik vind om mense summier af te skryf of weg te stoot. Selfs die onvryes en moreel-verwardes soos die Trumps van ons wêreld, sal nuut in ons visier van genade moet kom.
O Here, gee ons vandag weer daardie sin vir die tragiese wat ons kan help om mense, ja, alle mense, met méér deernis te benader. Amen
Carel Anthonissen