Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk (2 Korinthiërs 12:10).
Onlangs het die tragiese en ontydige dood van ‘n vriendin my weer voor die onbegryplike paradokse van die lewe te staan gebring.
Sy is in die fleur van haar lewe onverwags deur ‘n erge vorm van kanker getref.
Haar onverwagse dood het my gedwing om ook weer na te dink oor die hoop wat moontlik in hierdie dikwels pynlike en onverstaanbare teenstrydighede van die lewe opgesluit kan wees.
Hoe troosvol was dit nie om nuut te ontdek hoeveel mense deur die eeue soortgelyke ervaringe gehad het nie. Mense wat later ook vrylik kon skryf oor die nuwe hoop en lig wat hulle in hierdie donkerste uur ontdek het.
Die digter William Blake het beslis iets hiervan geweet toe hy geskryf het:
“Under every grief and pine, runs a joy with silken twine.
It is right it should be so; Man was made for joy and woe;
And when this we rightly know, through the world we safely go.”
Laat ons ook nie vandag Paulus, in sy tweede brief aan die Korinthiërs, se bewoë getuienis in dié verband vergeet nie.
Here, wat ‘n troos om te weet dat U in ons donkerste ure altyd by ons is. En dat ons daarom met hoop, ja, selfs blydskap kan lewe nie! Ame
Carel Anthonissen