Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang (Handelinge 10:43).
Dit staan daar amper onopvallend tussen die lyne in Handelinge 10:43 – wat een van die gróót gevolge of winste van Jesus se opstanding was.
Dit is dat sy vergifnis nóú van krag geword het in ons lewe, sodat wie Hom begin volg, hieraan deel kan kry.
Is dit nie so nie: Ons het almal vergifnis nodig? Vir onsself en vir ander. En nou, so getuig Petrus, het dit beskikbaar geword, hierdie gawe van God wat ons lewe en samelewing ten goede kan verander.
Om Christus se vergifnis te ontvang en daaruit te leef, beteken om brûe te begin oorsteek. Allereers na jouself sodat jy altyd weer mag weet: Al loop my lewe hóé skeef, al het ek álles verbrou, die God van Jesus bly die wagtende Vader wat my weer wil omhels, vergewe en liefkry.
Wie dít ontdek het, asook die gevoel van selfwaarde en selfvertroue wat daarmee saamkom, begin spontaan ook ‘n brug na ander oorsteek. Om ander te vergewe, is dan nie meer so moeilik nie.
Jy ontdek boonop, soos Broer Roger van Taize so aangrypend geskryf het: “If a passion for forgiveness were ablaze within you, then you could kindle sparks of communion even in the darkest days of a nation.”
Wat ‘n belangrike woord vir ons in Suid-Afrika vandag!
Here, ons wêreld, ja, ons eie lewe, voel party dae so leeg en sonder vergifnis. Help ons om vandag weer u vergewende hart te ontdek. Amen
Carel Anthonissen