Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Geroep om die polis te bou

Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ‘n standhoudende stroom (Amos 5:24).

Alles is deur Hom en vir Hom geskep (Kolossense 1:16).

Dit bly verbasend dat daar steeds mense is wat dink dat die kerk of die evangelie niks met die politiek te make het nie.

Asof dit alleen maar gaan om gelowiges se persoonlike heil of verlossing.

Natuurlik moet gelowiges altyd nederig voor hulle God leef. Ook versigtig wees dat hulle nie op sleeptou geneem word deur allerlei politieke slagspreuke of ideologieë nie. Of só na-aan die sentrum van mag beweeg dat hulle hulle kritiese sin en hulle profetiese getuienis verloor nie.

Dat ons as gelowiges geroep is om ook aan die opbou van die sogenaamde polis – in ou Griekeland was dit die stadstaat – deel te neem en te sorg dat óns polis, óns spesifieke samelewing, op die fondamente van vrede, geregtigheid, verdraagsaamheid en versoening gebou word, is gewis.

Bloot die feit dat die gelowiges van vroeër Jesus as Heer bely het en só die gesagsaansprake van die Romeinse keisers uitgedaag en betwis het, was ‘n politieke daad. Een wat direk tot hulle vervolging en swaarkry aanleiding gegee het.

Ook vandag in Suid Afrika sal ons onsself moet bly afvra wat dit prakties vir ons as gelowiges inhou om te bely dat Jesus die Heer is en sy wil bo alles gesoek moet word.

Dit sal werklik vreemd wees as dit ons nie op ‘n gespanne voet plaas met daardie politieke leiers of partye wat die waardes van die evangelie openlik, en ook op talle subtiele maniere, minag en vertrap nie.

Want God roep ons om ook dáár sy Naam te noem en groot te maak.

Here, leer ons vandag weer dit beteken om u Naam in elke sfeer van ons lewe groot te maak. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.