Party was verdwaal in die woestyn, in ‘n barre wêreld … Hy het hulle op die regte pad gebring en by ‘n bewoonde stad laat uitkom. Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde … (Psalm 107:4,7-8).
‘n Paar jaar gelede vat ek en my vrou saam met haar ouers een naweek die pad Namakwaland toe om blomme te gaan kyk.
Ons is bespreek om die eerste aand in Kammieskroon te slaap, maar 40 kilometer duskant Nuwerus begin een van die bande met ‘n groot geraas uitrafel.
Tot ons onsteltenis ontdek ek en my skoonpa dat daar geen noodwiel is nie. Dit is een van die rare, en vir ons op daardie stadium, absurde ontwikkelings by die ontwerp van bande vir moderne motors.
Die defekte band is wel nog reisvaardig – “flat run”-bande (ja, dít is die naam!) raak skynbaar nie sommer pap nie – maar ons moet skielik baie stadiger ry, tussen 15 tot 20 kilometer per uur. Die pad word eensklaps baie lank, terwyl die nag daal en ons slaapplek terugskuif Nuwerus toe.
My skoonma word die ster van die aand. Want terwyl ons half moedeloos en moeg wag dat Nuwerus se liggies uit die donkerte moet opduik, skink sy koffie en troos ons heeltyd: “Moenie bekommerd wees nie, ons vórder, ons vórder.”
Haar woorde word ‘n belangrike lewensles. Dat in tye van krisis en nood ons, veral as gelowiges, nie oorangstig of oormatig gespanne moet raak nie. Solank ons aan die gang bly, solank ons vorder, al is dit dan net treetjie vir treetjie.
Want iewers wink daar tog altyd ‘n soort uitkoms en, as ons positief bly, ook ‘n aankoms en goeie afloop.
Ons naweek was op die ou end vol wedervaringe, maar terselfdertyd onvergeetlik.
Ook ‘n les in geloof!
O Here, U laat ons nooit in die steek nie. Vergewe ons dat ons so gou moed verloor. En help ons om op u voetspoor te bly, al is dit met klein treetjies. Amen
Carel Anthonissen