Iemand wat ‘n kwaai hond sommer aan sy ore pak, so is iemand wat woedend instorm in ‘n rusie wat hom nie aangaan nie (Spreuke 26:17).
‘n Mens moet altyd versigtig en sensitief wees hoe jy jou met ander mense se sake bemoei.
Want jou goeie bedoelinge kan maklik verkeerd verstaan word. En dan op ‘n vreemde, ironiese manier boemerang sodat jy onverwags aan die verkeerde kant van ‘n saak beland, dikwels tot jou eie verleentheid.
So het ‘n vriend van my een aand verby ‘n huis gestap waar ‘n man en sy vrou hewig getwis het. Selfs mense in die straat kon die geskel en geraas hoor. Trouens, op ‘n stadium was die geskreeu van die vrou só erg dat my vriend gedwing was om die huis binne te gaan en te probeer help.
Binne was ‘n man, kennelik baie dronk, besig om sy vrou te karnuffel. Sodat my vriend hom beetgepak en van die vrou probeer afkry het. Groot was sy verbasing toe die vrou hóm begin takel het met die woorde dat hulle verskille niks met hom uit te waai het nie.
Dié aand het my vriend die les van Spreuke 26:17 geleer. Dit is dat jy versigtig moet wees hoe en waar jy jou hulp aanbied.
Natuurlik moet ons help waar mense mishandel of hulle lewens bedreig word, maar ons moet terselfdertyd waak dat ons nie inmeng waar mense hulle eie heil moet uitwerk nie.
Selfs waar dit om hulle woeste, huishoudelike twiste gaan …
Here, gee ons tog vandag die onderskeidingvermoë om te weet wanneer om in te gryp en te help en wanneer om terug te staan sodat ander hulle eie sake kan uitsorteer. Amen
Carel Anthonissen