Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid … Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie (Johannes 14:16, 18).
Ons kan ons beswaarlik die skok en die verwarring voorstel waarmee die dissipels Jesus se mededeling dat Hy hulle gaan verlaat, moes aanhoor.
Want dink jou in: Hulle het op ‘n stadium álles verlaat om Hom te volg.
En selfs al was sy huis die voetpad en sy oornagplekke so onherbergsaam en broos soos die neste van voëls of die gate van jakkalse, het dít hulle nie ontmoedig nie. Inteendeel, sy blote teenwoordigheid en vriendskap was genoeg. Genoeg om hulle te troos en te inspireer. Om hulle by Hom te laat bly.
En nou hierdie mededeling dat Hy húlle gaan verlaat. Dat sy pad lyding en sy uiteindelike bestemming die dood sou wees. En dat hulle Hom – voorlopig altans – nie daarheen kon volg nie. Dit is geen wonder nie dat hulle Hom in hierdie oomblik met vrae bly peper het (Joh 14:5,8,22).
En dan sy helende en verkwikkende woorde waaruit ons vandag steeds mag lewe: dat Hy ons nooit as weeskinders sal agterlaat nie. Dat Hy ‘n ander Trooster of Voorspraak sal stuur om altyd by ons te bly (Joh 14:16,18).
O, ons mag dit maar glo! Hierdie blye boodskap van Pinkster, dat God se Gees altyd by ons sal wees om ons te troos en te ondersteun, veral in tye van eensaamheid en skrik, van verlies en ontreddering.
O Here, dankie dat u Gees ‘n permanente inwoner van ons lewe is. Daarvoor kan ons U alleen prys en eer. Amen
Carel Anthonissen