Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die Gees herinner ons aan Jesus se woorde

En wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het (Johannes 14:26).

Een van die merkwaardige dinge wat die Heilige Gees, aldus die Evangelis Johannes, in ons lewe doen, is om ons aan Jesus se woorde te bly herinner.

En só te sorg dat sy woorde, ja, sy beloftes in ons lewe lewendig en kragtig bly.

En wat ‘n merkwaardige klomp beloftes het Jesus nie aan ons gegee nie! Allereers dat wie na Hom draai, verseker mag wees van God se liefde (Joh 14:21).

Ook dat Jesus die bose oorwin het (Joh 14:30), sodat ons met vrede kan leef met die wete dat ons lewe by Hom veilig en geborge is (Joh 14:27). Ook dat ons tot Hom kan bid met die verwagting dat Hy ons sal hoor en antwoord (Joh 14:13).

Miskien die merkwaardigste belofte van almal is dat Jesus sy werk van heling en versoening nou ná sy dood deur ons wil en gaan voortsit. Trouens, ons hoor in Jesus se woorde selfs die suggestie dat ons uitdagings groter as syne gaan wees. Ja, dat ons dade selfs syne gaan oortref (Joh 14:12).

Aan alles hiervan, so lui Jesus se woorde, sal die Gees ons herinner. Van hierdie woorde of beloftes van Jesus, sal die Gees ons gedurig bewus hou.

Die vraag is of óns genoeg bewus is van hoeveel ons in Christus reeds besit?

Here God, Heilige Gees, werk in ons, hou ons op ons tone sodat ons nooit mag vergeet wat ons alles in Christus besit nie. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.