Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?”, en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet” (Johannes 21:17).
By ‘n onlangse stildag stel iemand ‘n vraag waaroor ek seker is meer gelowiges al gewonder het.
Dit is die vraag of ‘n mens as gelowige Jesus regtig kan liefhê en wat dit alles beteken.
Ek ken die persoon wat die vraag geopper het al baie jare lank. Sy is ‘n toegewyde gelowige wat moeite doen om haar geestelike lewe te ontwikkel. Sy lees boeke, woon kursusse en stildae by. Alhoewel beskeie, weet sy méér as baie ander van die Bybel. Sy ken die hartklop van die Evangelie.
En tog bly sy diep in haar eie hart onseker of sy werklik, soos Christus van sy dissipels verwag het, Hom van harte en met oorgawe liefhet.
Haar vraag resoneer by my. Ek betrap my, soos ek glo met baie ander ook al gebeur het, dat ek haar onrus en bekommernis deel.
In sulke oomblikke troos ek my dat Petrus ook op ‘n stadium hiermee gesukkel het. Nadat Jesus Hom driemaal gevra het na sy liefde en Petrus se twyfel én verleentheid hieroor nóg groter geword het, kon hy Hom uiteindelik alleen op Jesus se kennis van hom beroep – die feit dat Jesus ook die diepere roersels van sy bedreiglike hart ken: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” (Joh 21:17).
Iets in my sê boonop dat die Heilige Gees self hierdie onrus in ons wakker hou.
Here, deur U Gees roep ek vandag weer na U. Ek het U lief, Here – U weet dit – maar help my om U nog méér te bemin. Amen
Carel Anthonissen