Boodskap vir Vandag

Search

Taal bou brûe

En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie (Handelinge 2:6).

Die werklike groot verandering wat die Heilige Gees op Pinkster in die lewe van die gelowiges gebring het, was om ‘n brug te slaan tussen mense van verskillende kulture en agtergronde.

En hierdie brug, so hoor ons, is via taal gebou.

Lank het ek gedink dat die Gees se koms eintlik maar net ‘n versterking van die verskillende gelowiges se eie kultuur en moedertaal was.

Maar nee, wat ons lees is, is iets anders. Dit is dat die verskeidenheid gelowiges skielik gehoor het hoe ánder, meesal vreemdelinge wat tot bekering gekom het, in dié gelowiges se onderskeie moedertale begin praat het oor die groot dinge wat God aan hulle almal gedoen het.

Wat beteken: Die Gees het die wonder laat gebeur dat mense van verskillende kulture en agtergronde mekáár se tale begin praat en verstaan het. En so sáám God kon loof.

Geen wonder die gelowiges was verras en verbaas nie. En dat hulle hulle ook nader aan mekaar gevoel het.

Want dít is tog wat gebeur as jy ander se taal leer ken en verstaan. Jy leer ook hulle harte ken. Suid-Afrikaners wéét dit tog.

O Here, gee ons vandag weer die moed om die grens na ander mense toe oor te steek. Selfs al beteken dit dat ek hulle taal moet leer praat. Kom, Gees van God, help ons tog hierin. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.