Ek verbly my oor die aankoms van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus, want hulle het vir my die gemis aan julle vergoed. Hulle het my gees verkwik en ook julle s’n (1 Korinthiërs 16:17-18).
Verlede week besoek ek ‘n ouer Engelse vriend in die hospitaal. Hy is tien jaar gelede met kanker gediagnoseer, daarná suksesvol behandel en het tot verlede jaar ‘n relatief gesonde lewe gelei.
Maar toe, ‘n paar maande gelede, het die siekte weer opgevlam en sodanig versprei dat sy hoop op herstel, medies gesproke, tot ‘n nulpunt gedaal het.
Vroeër kon ons met groot entoesiasme praat oor die temas van die dag, met name letterkunde en poësie – iets waaraan hy hom in sy latere jare met groot oorgawe gewy het. Maar nou, so stel hy dit, het die lewe sy glans vir hom verloor.
Alhoewel, so deel hy my mee, hy ook in dié dae die sorg en liefde van vriende en familie op nuwe maniere ontdek. Aangrypend verwoord hy dit:
“Nou eers besef ek hoe ons lewe eintlik heeltyd deur mere van liefde (“lakes of love”) omring is – mere wat vir lang tye onsigbaar onder die oppervlakte lê, totdat daar ‘n krisis kom. Dan kom hulle skielik boontoe en word sigbaar. So ervaar ek tans die liefdevolle ondersteuning en sorg van my vriende en familie. En dít hou my aan die gang!”
Wat ‘n besonderse getuienis is dit nie van iemand wat terminaal siek is nie!
Vir ons is sy woorde ook ‘n uitnodiging om in óns oomblikke van benoudheid vir sulke mere van liefde op die uitkyk te wees.
Mere wat onteenseglik bestaan.
O Here, dankie vir mere van liefde, vir mense wat in ons nood ons gees bly verkwik. Amen
Carel Anthonissen